Nouja, toe het ons en die Oosthuisens op 15 Januarie die pad gevat vanaf Pretoria na die Kaap. Hier volg 'n paar fotos op ons roete van Pta na Mosselbaai tot en met ons aankoms by Hartenbos. Hier bly ons nog tot 3 Maart (5 weke) vanwaar ons weer stelsematig sal beweeg huis toe. Ek sal weer opdateer soos die tyd loop. Groete.
Ons het 'n salige 5 weke gebly op hartenbos. Heelwat plekke besoek soos Jakkalsvlei Wynplaas en met die 7 Pas roete gery tot in Knysna. By Jakkalsvlei kon jy druiwe pluk en hulle maak die heerlikste Pizza's.
Die Strandmeer by Hartenbos se water was al vrot en ons het gesien hoe hulle met .n skopgraaf 'n sloot grou so 1m diep en 2m wyd vanaf die meer tot in die see. Die stroom water het oornag sie sand uit ge-kolwe tot 'n volskaalse riviertje.
Na ons verblyf by Hartenbos (Mosselbaai) het ons en die Oosies se paaie geskei, Hulle is voort na PE se kant toe en ons is na Goudini Spa naby Worchester waar ons vir 'n week gebly het. Baie wynplase besoek insluitend Delheim Wynplaas wat Anita nog altyd graag wou besoek maar nog nooit die geleendheid gekry het nie.
Die Goudini spa het heerlike vuurwarm water wat natuurlik uit die grond uit borrel.
Vanaf Goudini Spa het ons vertrek na Langebaan waar ons in Leentjiesklip Oord vir 'n week gebly het. Die wind was nogal erg hierso.
Van hier af het ons o.a. Darling besoek waar ons na die Darling Bier Brouery was en ook 'n vertoning van "Evita praat Kaktus" by Evita se Perron gaan kyk het. Dit was skreeusnaaks. Ons het ook gaan uiteet by die opelug Strandloper Restaurant.
Vanaf Langebaan het ons vertrek na Calvinia waar ons een nag oorgebly het, daarna ook een nag by Vryburg oorgeslaap en toe huis toe. Nou werk ons aan die planne vir die volgende uitstappie, moontlik Ponta Molangene - Mosambiek.